9 Feite oor die Voortrekkermonument!

9 Feite oor die Voortrekkermonument!

Reeds in 1888 het die gedagte om ’n Monument ter ere aan die Voortrekkers op te rig ontstaan. Die idee is tydens die Geloftedagvieringe by Bloedrivier deur President Paul Kruger geopper maar dit was eers in 1931 wat daar ’n Sentrale Volksmonumentekomitee gestig is. 

Gerard Moerdijk het ’n imposante gebou ontwerp om ere te bring aan die opofferings van die Voortrekkers.  Hier is ’n paar interessante feite oor die Voortrekkermonument. 

  1. Daar is 64 ossewaens rondom die Monument, wat in die vorm van ‘n laer gebou is. Die walaer is n mengsel van stukkies marmer, graniet en sement wat as terrazzowerk bekend staan. Elkeen van die ossewaes is 4.6meter lank en 2.7 meter hoog. Die hoeveelheid waens om die Monument is die presies hoeveelheid ossewaens wat daar was met die Slag van Bloedrivier. Die waens is n simboliese teken vir die beskerming van die Monument.
  1. Binne die monument is daar ’n senotaaf wat die sentrale fokuspunt van die monument verteenwoordig. “Senotaaf” beteken ’n leë graf. Dit is die simboliese rusplek van Piet Retief en al die Voortrekkers wat gesterf het tydens die Groot Trek. Elke jaar op die 16 Desember skyn die son deur ’n opening in die boonste koepel van die monument op die senotaaf presies in die middel van die woorde “ONS VIR JOU SUID-AFRIKA”. Die sonstraal verteenwoordig God se seën op die Afrikaner.
  1. Die bouwerk van die Monument het op 13 Julie 1937 begin en die Voortrekkermonument is op 16 Desember 1949 ingewy. Bokant die ingang van die Monument is n buffelkop wat deur Hennie Potgieter gemaak is. Die buffelkop simboliseer die verdediging van die ingang tot die “heiligdom” van die beskawing.
  1. Binne die Monument is daar ’n marmer Fries bestaande uit 27 panele wat elk ’n gebeurtenis van die Groot Trek uitbeeld. Die Fries is 92 meter lank, so bietjie meer as 2 meter hoog en weeg bykans 200 ton.
  1. Die Monument is al 73 jaar oud, 62 meter hoog en is van alle rigtings in Pretoria sigbaar. 
  1. Bo op die Monument is sigsag patrone in ’n driehoekvorm. Die patroon is gebruik om water as ’n simbool van vrugbaarheid aan te dui.
  1. Die marmervloer in die Heldesaal is ontwerp in ’n sirkelpatroon wat lyk soos watergolwe wanneer jy ’n klip in die water gooi. Dit simboliseer die verspreiding van die Gees van opoffering wat die Voortrekkers gehad het.
  1. Die Vroue en kinderbeeld wat voor die Monument staan is gemaak deur Anton van Wouw. Dit is die heel eerste openbare standbeeld in die geskiedenis van Suid-Afrika wat in brons gegiet is. Die beeld symboliseer die Afrikaner se kultuur en Christendom wat deur die vroue gedurende die Groot Trek gehandhaaf en uitgebou is. 
  1. Op die 4 hoeke van die Voortrekkermonument is reuse granietbeelde wat elk 5.5 m hoog is. Dit stel die Voortrekkerleiers voor naaamlik Piet Retief, Andries Pretorius, Hendrik Potgieter en dan op die vierde hoek Die Onbekende Voortrekkerleier wat al die ander leiers simboliseer soos Louis Tregardt, Sarel Cillers, Piet Uys, en Gerrit Maritz.

Die hoeksteen van die Vootrekkermonument is op 16 Desember 1938 gelê deur drie afstammelinge van oorspronklike Voortrekkerleiers, die kleindogter van Andries Pretorius en die agter-kleindogters van Andries Hendrik Potgieter en Piet Retief. In die hoeksteen is afskrifte van Jan van Riebeeck se dagboek, die Retief-Dingaan-traktaat, Die Gelofte, Die Stem en ’n Statebybel toegemessel.