DIE BOEREREPUBLIEKE

Vanaf die Eerste Britse oorname in 1795 het daar ʼn behoefte onder die burgerlikes ontstaan tot eie regering en onafhanklikheid.  In Britse geskrifte uit die tydperk, soos die dagboek van Lady Anne Barnard, word daar vermeld hoe sommige van die burgerlikes “Jakobyne” was en hul vryheidsideaal sterk nagestreef het.  Die ideaal het ook gelei tot verkeie pogings om onafhanklike republieke te skep met die doel op selfregering.  Keer op keer is die republieke geannekseer en opgeneem in eers die Kaapkolonie.  Die behoefte was ook ʼn direkte voorloper van die Groot Trek wat uiteindelik gelei het tot die vestiging van die Republiek van Natalia en ander kleiner republieke.  Weereens het Britse inmenging veroorsaak dat die republiek sy onafhanklikheid verloor.  Die laaste tog na die binneland het gelei tot die stigting van twee groot Boererepublieke wat uiteindelik teen die Britse Ryk se onderdrukking tot teenstand sou kom.

REPUBLIEK VAN SWELLENDAM

Op 17 en 18 Junie 1795 het sowat sestig Kaapse burgers onder leiding van Petrus Delport die drosdy van Swellendam beset en die landdros, Anthonie Faure en sy amptenare gedwing om te bedank.  ‘n Nasionale landdros is aangestel en ‘n nasionale konvensie geteken.  Die kortstondige onafhanklikheid van die gebied het tot ‘n einde gekom kort na die Britse besetting van die Kaap in September 1795.

REPUBLIEK VAN GRAAF-REINETTE

Tussen 1795 en 1796 het daar ‘n selfverklaarde Boererepubliek genaamd die Republiek van Graaf-Reinet in en om die huidige stad, Graaff-Reinet bestaan.  In 1795 het die inwoners, na jare van onderdrukking deur die VOC ‘n onafhanklike republiek uitgeroep.  In 1796 het die Britte die republiek ingeneem en tot ‘n einde gebring.

NATALIA

Na die Slag van Bloedrivier is, het die Natalse Voortrekkers die kortstondige Natalia Republiek tot stand gebring.  Die republiek was geleë aan die kus van die Indiese Oseaan, oos van die Oos-Kaap.  Een van die eerste probleme waaraan die Volksraad van Natalia moes aandag gee was ‘n Britse besetting van die hawe van Port Natal.  Die troepe is deur goewerneur Napier sonder magtiging uit Engeland na Natal gestuur om sogenaamd die inboorlinge te beskerm en bloedvergieting te voorkom.  In der waarheid het die Britte die Voortrekkers as hul onderdane beskou en was gekant teen die idee dat hul kon wegtrek na ‘n grondgebied wat nie onder Britse beheer was nie.  Die Britte, onder leiding van majoor Charters het ook beslag gele op die militêre voorrade van die Trekkers in Natal.  Die Volksraad het hierteen geprotesteer.  Die Britte het ingestem om die militêre voorrade terug te gee aan die Trekkers indien hul dit alleenlik sou gebruik vir selfverdediging.  Die Trekkers het egter geweier om die voorwaardes te aanvaar aangesien enige aanvaarding van Britse voorwaardes sou beteken dat hul hulself onderwerp aan Britse beheer.  In 1843 annekseer die Britte Natal en in 1845 word Natal ‘n distrik van die Kaap met Martin West as die Luitenant-goewerneur. 

REPUBLIEK VAN DIE KLIPRIVIER

Die Kliprivier Republiek het kortstondig bestaan in 1847.  Die republiek is in die Ladysmith-omgewing gestig maar teen die tyd het slegs 40 van die oorspronklike Voortrekkergesinne nog in Natal gewoon.  Na die anneksasie van die Natalia Republiek het die meerderheid Voortrekkers weggetrek en slegs ‘n paar maande na sy stigting is die Republiek van die Kliprivier ook deur die Britte geannekseer. 

REPUBLIEK VAN WINBURG-POTCHEFSTROOM

Tussen 9 April 1844 en 3 Februarie 1848 het die Republiek van Windburg-Potchefstroom bestaan.  Die republiek is deur Andries Hendrik Potgieter gestig en die voormalige republieke van Winburg en Potchefstroom het saamgesmelt om die Republiek van Winburg-Potchefstroom te vorm

Op 3 Februarie 1848 is Winburg deur die Britte geannekseer en by die Oranjeriviersoewereiniteit ingelyf.  Potchefstroom het daarna deel geword van die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal).

REPUBLIEK VAN LYDENBURG

In 1856 skei ‘n groep boere af van die Potchefstroomse Republiek en stig die Republiek van Lydenburg.  Die dorp Lydenburg is reeds in 1849 deur ‘n groep Voortrekkers onder leiding van Andries Potgieter gestig.  In 1857 sluit die republiek aan by die Republiek van Utrecht en in 1860 sluit beide die voormalige republieke aan by die Zuid-Afrikaansche Republiek.

DIE NIEUWE REPUBLIEK

Die Vryheid Republiek of Nieuwe Republiek het tussen 1884 1888 bestaan.  Op 20 Julie 1888 is die republiek opgeneem in die Zuid-Afrikaansche Republiek as die Distrik Vryheid.  Alhoewel die republiek in Natal geleë was is dit nie opgeneem as deel van Natalia Republiek nie.  Na die Anglo-Boereoorlog is die gebied egter deur die Britte geannekseer en deel van die Natalkolonie gemaak.

REPUBLIEK VAN STELLALAND

Tussen 1882 en 1885 was Stellaland ‘n onafhanklike boererepubliek in die noordelike deel van die Kaapkolonie.  Vandag sluit dit die dorpe Vryburg, Stella en Reivilo in, asook kleiner dorpe soos Bray, Tosca en Vorstershoop.  Die naam van die republiek kom van die Latynse woord vir ster.  Volgens oorlewering was ‘n komeet in die nagruim sigbaar tydens die gevegte wat aanleiding gegee het tot die stigting van die republiek. 

Die republiek het ontstaan tydens ‘n periode van konflik tussen die Batlaping en die Korannas.  Beide groepe het wit huursoldate gewerf om aan hul kant te veg.  Die leier van die Korannas het plase aan die boere belowe wat aan sy kant geveg het.  Toe die konflik beëindig is, het 416 Boere plase ontvang en hulself as vryburgers beskou.  Aanvanklik wou Stellaland met die Transvaalse Republiek (Die Zuid-Afrikaansche republiek) vereniging maar die Britse regering het dit teengestaan.  In Februarie 1885 het die Britte die dorp ingeneem en in 1885 is die gebied by die Brits-Betsjoenaland ingelyf. 

DIE REPUBLIEK VAN UPINGTONIA

Upingtonia was ‘n Boererepubliek aan die Suide van Angola wat tussen 1885 en 1887 bestaan het.  In 1886 verander Upingtonia se naam na Lijdensrust.  Die gebied is later by die huidige Namibië ingelyf.

BOEREREPUBLIEKE VOOR DIE EERSTE- EN TWEEDE VRYHEIDSOORLOG (ANGLO-BOEREOORLOG)

Die uiteindelike vestiging van die Voortrekkers aan die binneland van Suid-Afrika het gelei tot die stigting en konsolidasie van die twee grootste Boererepublike.  Dit sou uiteindelike die twee republieke wees wat toetree aan beide die Eerste- en Tweede Vryheidsoorlog (Anglo-Boereoorlog).

DIE ZUID-AFRIKAANSCHE REPUBLIEK (ZAR/TRANSVAAL)

Die gebied oorkant die Vaalrivier is na verwys as die Transvaal.  Nadat die Voortrekkers uit Natal weggestrek het (sommige weens Britse inmenging) het ‘n groep burgers in die gebied gevestig.  Na die ondertekening van die Sandrivierkonvensie het die Britse owerhede in 1852 die Zuid-Afrikaansche Republiek (bestaande uit ‘n klompie verenigde Boererepublieke in die Transvaal) erken. Twee jaar later sou die Oranje-Vrystaat ook erken word.  Aanvanklik was Potchefstroom die administratiewe hoofstad van die ZAR. 

DIE REPUBLIEK VAN DIE ORANJE-VRYSTAAT (OVS)

Die Oranje-Vrystaat was ‘n onafhanklike staat in Suidelike-Afrika gedurende die tweede helfte van die negentiende eeu en was die geskiedkundige voorloper van die huidige Vrystaatprovinsie. Dit is geleë tussen die Oranje- en Vaalrivier, en is gestig as ‘n Vrye staat deur die Afrikaner Boere, nadat hulle die Britse beheerde Kaapkolonie gedurende die Groot Trek verlaat het. Die Republiek se naam het gedeeltelik ontstaan vanuit die naam van die Oranjerivier, net soos die Republiek van Transvaal sy naam vanuit die Vaalrivier verkry het. Beide name is deur die Boere ter ere van die Hollandse Monarg, die Huis van Oranje-Nassau vernoem.

Die Vrystaat is geannekseer deur Brittanje in 1848, en op 17 Februarie 1854 het Brittanje die onafhanklikheid van die Oranje Vrystaat erken. Op 23 Februarie 1854 het die Oranje-Vrystaat amptelik onafhanklikheid verkry by die ondertekening van die Konvensie van Bloemfontein.

Die Oranje Vrystaat het as ‘n politieke en ekonomiese suksesvolle staat ontwikkel, maar desnieteenstaande het dit voortdurende konflik met Brittanje ervaar, totdat dit uiteindelik amptelik gedurende die Tweede Vryheidsoorlog deur Brittanje geannekseer was as die Oranjerivierkolonie in 1900.

GOUD EN DIAMANTE

Die twee Boererepublieke se landelike gemeenskappe was aanvanklik deur ’n rustige bestaansekonomie gekenmerk, wat grotendeels gerig was op die versorging van families, grondbesit en landbou. Bybelkennis, natuurkennis en die voortdurende stryd om vryheid het die landelike bevolking se waardes en welstand bepaal.

Die nywerheidsrewolusie in Brittanje het ’n vraag na nuwe markte en nuwe grondstowwe geskep. Met die ontdekking van diamante in Kimberley in 1866 wou Brittanje ten alle koste die twee republieke weer in die greep van die Britse Ryk kry. Alhoewel Kimberley aanvanklik binne die Vrystaatse republiek geval het, het die Britse owerheid die Vrystaatse aanspraak betwis. Die grensgeskil is na ’n lang onderhandelingsproses opgelos. Die Vrystaat het sy aanspraak op die Kimberley-diamantvelde verloor, maar het ’n paar duisend pond as vergoeding gekry. President Brand het die fondse aangewend om die Vrystaatse Republiek se staatsdiens en infrastruktuur te versterk.

Op 22 Januarie 1877 het Theophilus Sheptone met ‘n afdeling van 25 polisie Pretoria binnegery.  Hy is gestuur om die Transvaal te oorreed of the dwing om Britse gesag te aanvaar.  Hoewel President Burgers (op daardie stadium die President van die ZAR) aanvanklik voorgekom het asof hy Britse terme sou aanvaar, het Paul Kruger volstrek geweier om saam te stem.  Terwyl Sheptone besig was met sy oorreding, het daar ‘n veldtog van presidentsverkiesing in die Transvaal plaasgevind.  Die twee kandidate was Burgers en Kruger.  Kruger is uitgekryt as ‘n kru, ongekunstelde man in die media.  Tog het hy heelwat steun ontvang wees sy groot ondersteuning vir onafhanklikheid vir die Transvaal. 

Sheptone het ook die Transvaal probeer intimideer om Britse gesag te aanvaar.  Op 28 Maart het dit bekend geword dat Britse troepe in Natal op pad was na die Transvaalse grens.  Deur die nag van 3 April is daar by die regeringsmagasyn ingebreek en kruit gesteel.  ‘n Verdedigings-organisasie deur Engelse inwoners is vier dae later geskep om hul sogenaamd teen die regering te verdediging indien verset teen Shepstone se planne kom.  Op 12 April is die Transvaal amptelik deur Shepstone geannekseer.  Shepstone het aangevoer dat die toestand in die Transvaal onhoudbaar is en net verder kon versleg, dat die Sekoekoenie-oorlog ‘n bedreiging vir alle blankes in Suid-Afrika ingehou het end at die ZAR-regering te swak was om die situasie te hanteer.  Volgens Shepstone kon die Britse regering nie meer die situasie duld nie en het hy aangevoer dat die meerderheid Transvalers die anneksasie ondersteun. 

Kort na Shepstone die Transvaal annekseer het, wou Kruger die leiding neem in die taak om verset te organiseer.  Aanvanklik het die saak hopeloos gelyk.  Die burgers was magteloos teen die Britse ryk, tog het Kruger aangehou.  Hy het twee keer met ‘n afvaardiging na Londen gereis om met diplomasie die probleem op te los.  Die Britse regering se opinie was bloot dat die meerderheid burgers pro-anneksasie was, waarop Kruger geantwoord het dat dit deur ‘n referendum getoets behoort te word.  Dit is geweier.  Onder Kruger se versoeke het die burgers meer en meer in verset begin kom.  Aanvanklik het hul vreedsaam protes aangeteken deur ‘n protesskrif te onderteken. 

VREEDSAME VERSET

Kommandant-generaal Piet Joubert het aan kommandant Piet Cronjé opdrag gegee om met 400 burgers na Potchefstroom gegaan en die onafhanklikehidsproklamasie by JP Borrius te laat druk.  Britse troepe by Potchefstroom het in konflik met die Boerepatrollie gekom en die eerste skote van die Eerste Vryheidsoorlog het op 16 Desember 1880 geklap. 

Aanvanklik het die Britte verwag dat dit ‘n maklike oorwinning sou wees.  Die burgers het geen staande weermag gehad nie en het bestaan uit burgerlike vrywilligers wat tot die stryd toegetree het.  Die Boere het beslissende oorwinnings behaal by Bronkhorstspruit, Laingsnek, Schuinshoogte en Majuba. 

DIE SLAG VAN MAJUBA

Generaal Colley 2000 troepe van Newcastle laat kom en die plan bedink om die berg Majuba te beset, vanwaar hy kon neerkyk op die Boere se stellings by Laingsnek. Die Britte het die berg gedurende die nag van 26 Februarie uitgeklim. Daar was 405 Britse soldate op die berg, insluitend 171 van die 58ste Regiment en 141 van die 92ste Highlanders.  Teen dagbreek is soldate rondom die kruin van die berg uitgeplaas. Die Gordon Highlanders het die noordelike en noordwestelike kruin beset, asook Gordon se koppie (Gordon’s Knoll), een van drie koppies bo-op Majuba.

Die Boere het Britse soldate op die berg bemerk en besluit om dit te bestorm. Generaal Nicolaas Smit, die bevelvoerder, het vrywilligers gevra en drie afdelings is gevorm onder leiding van kommandant Ferreira, assistent-veldkornet Roos en assistent-veldkornet Malan. Generaal Smit het opdrag gegee dat die manne ouer as 50 agter die rotse van die eerste plato moes bly skuil en na elke Engelsman wat sy kop oor die boonste rand uitsteek, moes skiet. Dit het dit moontlik gemaak vir die res van die Boere om onder vuurdekking tot reg onder die kruin te kom.

Teen 12:45 het die Boere met hewige geweervuur op Gordon se koppie losgebars en dit verower. Gedurende die volgende uur, het die Boere oor die kruin gestroom.  Daar was groot verwarring en die Britte het na die suidekant van die bergtop begin vlug. Generaal Colley is bokant sy regteroog raakgeskiet en is op die berg oorlede. Die res van die Britse mag het oor die agterste kruin gespring en is beseer, geskiet of gevange geneem.

Aan die Britse kant is 92 gedood, 134 is gewond en 59 is gevange geneem.  Aan die Boerekant was daar slegs twee mans dood.  H. Bekker is dood gedurende die slag en J. Groenewald het later van sy wonde gesterf.  Die oorwinning het ‘n belangrike simbool geword vir die Boeremagte tydens die Anglo-Boereoorlog.  Krete van ‘Remember Majuba’ het die Boere aangehits teen die Britse magte.

DIE PRETORIA KONVENSIE

As gevolg van die Slag van Majuba het die Eerste Vryheidsoorlog tot ‘n einde gekom.  Die Pretoria Konvensie van 1881 het nie volle onafhanklikheid vir Transvaal gegee soos hulle voor 1877 gehad het nie. Kruger het egter geredeneer ’n halwe eier is beter as ’n leë dop. Om dié rede het Kruger geskik vir volkome selfregering wat binnelandse sake betref, maar Britse oppergesag wat buitelandse beleid betref. Kruger het al die Transvalers agter hom verenig, die simpatie van die Europese gemeenskap bekom, en die aktiewe steun van Afrikaners regoor Suid-Afrika gemobiliseer.

Vryheid is voorlopig herwin, maar Kruger sou voortaan die vryheid met alle mag en krag verdedig. Die Pretoria Konvensie het, soos die latere Verdrag van Versailles na die Eerste Wêreldoorlog, die kiem van die toekomstige oorlog vervat. Vir die Britse Ryk het Majuba die simbool van vernedering geword. Hulle sou nie rus voordat Transvaal vernietig was nie.

Na drie jaar van protes het Kruger na vore getree as simbool van Afrikaners se vryheidstrewe, diplomaat, Afrikaanse kampioen en staatsman wat ver buite die grense van sy eie land gehuldig is. Die volharding, toewyding en integriteit waarmee hy as Calvinis geprotesteer het, het aan hom groot geloofwaardigheid gegee. Ook in Brittanje is Kruger erken as die amptelike leier van die Transvalers, terwyl Afrikaners regdeur die land hom as kampvegter vir hul nasionale ideale beskou het.

KRY ONMIDDELIK R50 AFSLAG vir enige aankope bo R200

Teken in vir die Posmeester - lag lag die maklikste manier om deel te word van ons gemeenskap, vra maar die duisendes wat dit reeds gedoen het!

 

R50 AF

*Jou inligting is veilig by ons, ons hanteer e-pos adresse soos goud.